VERANDERINGE AAN SLEGTE SKULD TOELAE
September 18, 2018
BAD DEBTS AND VAT
September 18, 2018

WAARDASIE VAN VOORKEURAANDELE

Wanneer dit kom by inkomstebelasting, veroorsaak die kwessie van waardasie van aandele dikwels ’n groot mate van onsekerheid, veral waar aandele nie op ’n erkende beurs verhandel word nie. Alhoewel die Agtste Skedule van die Inkomstebelastingwet[1] in paragraaf 31 ’n bietjie leiding gee oor die markwaarde van sekere bates, is die ‘allesinsluitende’ metode die prys wat verkry sou kon word by die verkoop van ’n bate tussen ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper wat op armlengte in die oop mark handel.

Die reëls van kapitaalwinsbelasting bepaal dat persone op die datum van hulle dood geag word hul bates van die hand te sit (behalwe vir ’n beperkte getal uitsluitings) vir ’n bedrag gelykstaande aan die markwaarde van daardie bates. Markwaarde, en hoe dit bepaal moet word, is dus ‘n baie belangrike oorweging.

Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs in CSARS v The Executors of Estate Late Sidney Ellerine 2018 ZASCA 39 ‘n bietjie meer leiding gegee oor die waardasie van voorkeuraandele in so ’n geval, deur die regte wat op daardie voorkeuraandele betrekking het, te oorweeg. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangevoer dat ten tye van die oorledene se dood hy geregtig was om voorkeuraandele wat hy in ’n maatskappy gehou het, te omskep in gewone aandele en dat die aandele op daardie basis gewaardeer moes word. Dit was ’n belangrike oorweging, aangesien dit die verskil gemaak het tussen die aandele wat ter waarde van R563 miljoen gewaardeer is, teenoor die nominale waarde van R112 000.

Nadat die Belastinghof aanvanklik bevind het dat die oorledene nie geregtig was om die voorkeuraandele in gewone aandele te omskep nie, het die Hoogste Hof van Appèl sekere wysigings wat in die maatskappy se Memorandum van Inkorporasie (soos dit toe was) aangebring is, asook twee spesiale resolusies, oorweeg. Feitelik, op grond van hierdie dokumente, het die hof bevind dat die oorledene inderdaad geregtig was om die voorkeuraandele op die datum van sy dood om te skakel na gewone aandele. Die aandele moes dus op R563 miljoen gewaardeer word, in plaas van R112 000.

Daar is twee belangrike lesse wat uit hierdie uitspraak geleer kan word. Eerstens, die presedent wat geskep is dat waar ‘n persoon die reg het om voorkeuraandele tot gewone aandele te omskep, die voorkeuraandele op daardie basis gewaardeer moet word.

Tweedens moet die ware bedoeling van partye weerspieël word in die bewoording en konstruksie van alle dokumente. Die regspan vir die respondent in die Ellerine-saak het sterk geargumenteer dat ’n doelgerigte en kontekstuele benadering gevolg moet word by die oorweging van die Memorandum van Inkorporasie en spesiale resolusies. Die hof was egter nie oortuig nie en het aangedui dat alhoewel bedoeling belangrik is, die basiese interpretasie gemaak moet word met verwysing na wat opgeteken is. Belastingbetalers word aangemoedig om professionele advies te verkry voor die uitvoering van ooreenkomste om te verseker dat hulle ware bedoeling en die doel waarvoor hulle uitvoering gee aan dokumente, duidelik blyk uit die bewoording wat gebruik word.

Soos  gesien kan word uit die Ellerine-saak kan versuim om dit te doen, baie duur wees.

[1] Nr. 58 van 1962

Hierdie artikel is ʼn algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd ʼn finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)