Die voorlopige belasting-regime funksioneer as ‘n deurlopende kontantvloeimeganisme ten gunste van die Regering waarvolgens belasting voorlopig betaal word op inkomste verdien in afwagting op die finale belastingaanspreeklikheid wat bereken word wanneer ‘n persoon finaal vir inkomstebelasting aangeslaan word. Wanneer ‘n persoon vir voorlopige belasting geregistreer is, word daar vereis dat vooruitskattings van belasbare inkomste sesmaandeliks aan die SAID voorgelê word (en voorlopige belasting dienooreenkomstig betaal word), naamlik na die eerste 6 maande van die aanvang van die persoon se belastingjaar en weer op die laaste dag van daardie belastingjaar.
Heelwat van ons kliënte is nie vir voorlopige belasting geregistreer nie, en dit word ook nie van hulle vereis nie. Normaalweg word registrasie vir voorlopige belasting slegs vereis vir die mate waartoe inkomste verdien sal word in die vorm van vergoeding (en wat dus reeds onderhewig is aan die lopende betaalstelsel, waardeur belasting alreeds vooraf op ‘n maandelikse basis namens die belastingbetaler betaal word). Individue wat dus slegs ‘n salaris (en moontlik ander onbelangrike belasbare ontvangstes) deur die jaar verdien, hoef nie as voorlopige belastingbetalers te registreer nie.
Wat egter dikwels in die praktyk gebeur, is dat hierdie nievoorlopige belastingbetalende individue ‘n beduidende bate tydens ‘n belastingjaar mag verkoop (tipies in die vorm van vaste eiendom), en daardeur beduidende belasbare kapitaalwins realiseer. In so ‘n geval moet hierdie individue ook as voorlopige belastingbetalers registreer en voorlopige belasting betaal vir die betrokke belastingjaar. Ongelukkig is baie belastingbetalers heeltemal onbewus van hierdie vereiste en stel hulle hulself daardeur bloot aan swaar boetes rakende die onderberaming van voorlopige belasting vir versuim om die vereiste opgawes in te dien. Waar geen voorlopige belastingopgawe deur die betrokke individu ingedien is nie, mag die SAID aanneem dat ‘n Rnul skatting deur die belastingbetaler ingedien is vir doeleindes van voorlopige belasting.[1] As gevolg hiervan sal die SAID aanneem dat die belastingbetaler sy belasbare inkomste vir die relevante aanslagjaar onderberaam het en sal ‘n boete van tot 18% (of 20% of 90%) van die belasbare inkomste vir die betrokke aanslagjaar uitgereik word.[2] Indien in ag geneem word dat hierdie eenmalige gebeurtenis waarskynlik tot gevolg het dat ‘n aansienlike bate gerealiseer word (met ‘n aansienlike gepaardgaande belastingkoste), sal die relevante boete ook redelik stewig wees.
Dit is moontlik om die SAID te versoek om die boete gehef op onderberaming te verminder, óf in terme van die relevante bepalings van die Belastingadministrasiewet[3] óf in terme van die Vierde Skedule tot die Inkomstebelastingwet.[4] Dit is egter ons ondervinding dat die SAID traag is om afslag aan belastingbetalers te verleen, en enige versoek tot vermindering lei dikwels tot ‘n ingewikkelde en uitgerekte proses. Dit is dus verkieslik dat belastingbetalers bewus moet wees van die potensiële belastinggevolge wat gekoppel is aan die verhandeling van beduidende bates, en om dit met hul belastingpraktisyns te bespreek alvorens hulle beduidende transaksies aangaan, sodat die vereiste belastingverpligtinge betyds nagekom kan word.
[1] Paragraaf 20(2C) van die Vierde Skedule tot die Inkomstebelastingwet 58 van 1962
[2] Paragraaf 20(1)(a) of (b) van die Vierde Skedule tot die Inkomstebelastingwet 58 van 1962
[3] Paragraaf 217(3) van Wet 28 van 2011
[4] Paragraaf 20(2)
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)