Die persoonlike inkomstebelastingtabelle word jaar- tot- jaar aangepas en gebaseer op watter individue belas word, gebaseer op ‘n toenemende glyskaal wat bepaal word deur die inkomste wat hulle ontvang en dus in watter belastingkategorie hulle sal val. Die jaarlikse aanpassings het deels ten doel om voorsiening te maak vir belastingverligting of vir ‘n bykomende las op sekere salaristrekkers, en deels om voorsiening te maak vir die invloed van inflasie.
Kyk byvoorbeeld na die primêre korting vir 2015/2016 (R13,257) vergeleke met dié vir die 2016/2017-belastingjaar (R13,500). Dit is nou vermeerder tot R13,635 vir die 2018 fiskale jaar. As die laagste belastingdrempel van 18% hierop toegepas word kom dit daarop neer dat die jaarlikse belastingvrye ontvangstes van R73,650 in 2016, verhoog word tot R75,000 in 2017 en daaropvolgend tot R75,750 vir 2018.
Dit beteken dat die drempel waarteen individue belas word effektief met 1.8% en 1% oor die laaste twee jaar vermeerder is. In nie-reële terme, dus, is belastingverligting meegebring vir daardie individue wat in die laer belastingkategorievlak val: waar ‘n salaris van R6,138 per maand in 2016 belastingvry sou gewees het is hierdie bedrag vir 2018 nou R6,313.
As egter in ag geneem word dat inflasie oor hierdie periode gemiddeld tussen 5% en 7% beloop het beteken dit dat diegene op die laer inkomstevlakke in reële terme meer belasting in 2018 betaal as wat in 2016 die geval sou gewees het. Die uitwerking van sogenaamde “belastingkruiping” (waardeur belasting effektief verhoog word deurdat belastingkategorieë nie voldoende aangepas word om vir inflasie voorsiening te maak nie) is ‘n verskynsel wat ‘n akute invloed het, nie alleen op die rykes nie, maar ook op die armes, veral oor die afgelope twee jaar.
Die voorgaande waarneming is relevant in die konteks van die huidige debat oor die potensiële verandering van die BTW-koers. BTW word beskou as verteenwoordigend van ‘n regressiewe belastingstelsel waardeur almal, ryk of arm, dieselfde bedrag aan belasting betaal gebaseer op die verbruik van goedere (onderhewig aan die vrystelling van sekere basiese goedere). In teenstelling hiermee verteenwoordig die stelsel van persoonlike belasting ‘n progressiewe stelsel waardeur die rykes proporsioneel meer belas word en teen hoër koerse, gebaseer op hul besondere inkomstevlakke. Die politieke dinamika bepaal derhalwe dat ‘n pro-armes belastingstelsel swaarder moet fokus op inkomstebelasting met toenemende belastingkategorieë eerder as ‘n uniforme BTW-koers wat deur die bank op almal van toepassing is. Dit is presies om hierdie rede dat daar soveel retoriek en politieke geraas in die media teen ‘n verhoging in die BTW-koers is, veral waar pro-armes bewegings soos die vakbondbeweging en die SAKP betrokke is.
Wat die bogenoemde effek van belastingkruiping egter illustreer is dat die Tesourie op ‘n indirekte wyse ook die belastinglas op die armes sistematies deur belastingkruiping verhoog, dog op ‘n meer subtiele manier waardeur hulle terselfdertyd betrokkenheid by die politike moeras van die BTW-koers, vermy. Miskien ‘n implisiete erkenning deur die Tesourie dat die rykes nie alleen verhoogde belastinglaste kan absorbeer nie?
Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)