Mense sê dikwels hunkerend: “Ek wens ek het my eie besigheid gehad”. Sommige neem dit verder en besluit watter soort produk of diens hul wil lewer. ‘n Paar gaan selfs so ver om pen op papier te sit en beplanning en berekenings te doen. Op hierdie stadium is dit raadsaam om die faktore wat hier gelys word, te oorweeg. Hierdie is nie ‘n volledige lys nie, maar wel ‘n goeie beginpunt.
Voordat u tyd en energie aan die oprigting van ‘n besigheid spandeer, moet u seker maak dat u ‘n redelike kans op sukses het. Sommige faktore wat u kan oorweeg, is:
- Marknavorsing
Die eerste en belangrikste faktor om te oorweeg, is wie u kliënte sal wees en of hulle bereid en in staat sal wees om vir u produk of diens te betaal.
Vind uit wie u waarskynlike mededingers gaan wees en beplan hoe om u besigheid van hulle s’n te onderskei.
- Advertensies
Kliënte moet van u bewus wees voordat hulle met u besigheid kan doen.
Alhoewel die beste advertensie mondelinge verwysings is, is dit ook die metode wat die langste neem. Hoe sal u die bemarking benader om te verseker dat kliënte van u besigheid weet totdat die besigheid homself gevestig het as waardig van sodanige mondelinge verwysings?
- Kontantvloei
In die meeste gevalle misluk mense met die oprigting van ‘n besigheid weens ‘n gebrekkige kontantvloei. Wanneer u ‘n kontantvloeibegroting optrek, moet u so realisties as moontlik wees. Maak seker dat u geprojekteerde kontantvloei vir die beste en slegste moontlike scenario’s voorsiening maak.
Onthou dat u eers ‘n produk moet koop of ‘n diens moet lewer voordat u geld van ‘n kliënt sal ontvang. Totdat die kliënt betaal, moet u genoeg kontant hê om die koste van die produkte of diens wat u aan hulle verkoop, te dra.
Indien u op krediet wil verkoop, moet u in gedagte hou dat alle kliënte nie noodwendig vinnige betalers is nie. Daar sal trae betalers wees en die onvermydelike slegte skuld – dit is deel van besigheid. Maak voorsiening daarvoor.
- Verskaffers
Wie gaan u verskaffers wees? Sou dit moontlik wees om by hulle op krediet te koop? Om ‘n rekening by ‘n verskaffer te hê, kan die druk op u kontantvloei verlig, veral as u voorraad moet aankoop vir herverkoop.
Doen ook navraag oor moontlike kontant- en hoeveelheidsafslag op aankope.
- Lopende uitgawes
Indien geld stadiger inkom as wat uitgawes aangegaan word, sal u oor genoeg fondse moet beskik om die uitgawes wat betaal moet word, te dek, byvoorbeeld salarisse, huur, voorraadaankope en versekering.
- Persoonlike kontantvloei
Die eienaar is die laaste persoon wat betaal word. Dit kan dalk gebeur dat u al u werknemers se salarisse moet betaal en dat daar dan nie voldoende fondse beskikbaar is om uself te betaal nie. Sal u persoonlike kontantvloei u kan deurtrek as u nie elke maand ‘n salaris ontvang nie?
- Finansiering
Aanvangskoste, lopende koste, kapitale uitgawes. Daar is verskeie maniere om fondse te genereer om hierdie kostes te dek:
® Banklenings;
® Lenings by vriende en familie;
® Vind ‘n engel-belegger (Engels: “angel investor”);
® Neem ‘n verband uit op een van u persoonlike bates, bv. u huis;
® Gebruik persoonlike spaargeld; of
® Enige kombinasie van die bogenoemde.
Dit is nie ‘n lekker gedagte om te weet u poging tot ‘n besigheid kan dalk misluk nie, maar indien dit gebeur, is dit beter om voorbereid te wees. Op watter stadium sal u dit oorweeg om u verlies af te skrywe en die besigheid te sluit?
Laastens, wees bewus van die feit dat dit dikwels langer neem vir ‘n nuwe besigheid om winsgewend te raak as wat oorspronklik beplan is, aangesien daar nie vir al die toekomstige struikelblokke voorsiening gemaak kan word nie. Neem dit in aanmerking wanneer u die beplanning en berekenings vir u nuwe besigheid doen.
Hierdie artikel bevat slegs algemene inligting en moenie gebruik of beskou word as professionele raad nie. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade weens vertroue op hierdie inligting nie. Raadpleeg altyd u finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)
Verwysingslys:
Toegang verkry op 8 Julie 2015