TAX ON PENSION FUNDS AND DIVORCES
September 14, 2016
DIRE PROVISIONAL TAX PENALTIES ON UNDERESTIMATION OF INCOME
October 10, 2016

VOORGESTELDE BELASTINGWYSIGINGS VIR RISIKOKAPITAALBELEGGINGS

BloksDie nuutste rondte wetgewende wysigings wat deur die Nasionale Tesourie voorgestel en op 8 Julie 2016 vrygestel is vir openbare kommentaar bevat ‘n welkome toegewing aan belastingbetalers wat graag in goedgekeurde risikokapitaalmaatskappye wil belê.

In kort kwalifiseer beleggers wat in kwalifiserende risikokapitaalmaatskappye (of “VCCs”, soos dikwels daarna verwys word) belê vir ‘n inkomstebelasting aftrekking van ‘n bedrag gelykstaande aan hul belegging. Dit is ‘n aantreklike aansporing wat deur Afdeling 12J van die Wet op Inkomstebelasting, 58 van 1962, bepaal word. Tans bestaan daar ‘n aantal vereistes voordat ‘n belegging kwalifiseer vir die Afdeling 12J-aftrekking. ‘n Maatskappy wat kwalifiseer as risikokapitaal-maatskappy moet registreer in terme van die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, 37 van 2002, en mag slegs belê in maatskappye wat selektiewe en aktief-handeldrywende besighede besit. Ander kriteria bestaan ook, wat pertinent insluit dat die risikokapitaalmaatskappy in minstens 5 van hierdie kwalifiserende maatskappye moes belê het teen die einde van die belastingjaar wat eindig 3 jaar na die eerste uitreiking van aandele deur die risikokapitaalmaatskappy. Effektief beteken dit dat die risikokapitaalmaatskappy tyd gegun word om toepaslike kwalifiserende maatskappye te vind om in te belê voordat die belastingaftrekking wat aan sy aandeelhouers toegeken word, verbeur word indien dit versuim om op hierdie manier te belê.

‘n Statutêre hindernis tot belegging in ‘n risikokapitaalmaatskappy wat egter tot nou toe bestaan het, was dat aandeelhouers in die risikokapitaalmaatskappy (wat vir die Afdeling 12J-aftrekking wil kwalifiseer) nie toegelaat is om “verbonde persone” in verhouding tot die risikokapitaalmaatskappy te wees nie. Alhoewel dit ‘n gedefinieerde term is, sal ‘n persoon tipies ‘n “verbonde persoon” wees in verhouding tot die risikokapitaalmaatskappy indien dit meer as 20% van die maatskappy se aandele besit. Normaalweg sal ‘n persoon die inisiatief neem om ‘n risikokapitaalmaatskappy op te rig en daarna medebeleggers gaan soek om die struktuur, sowel as die toekomstige onderliggende beleggings wat in die komende 3-jaar tydperk gemaak moet word, te help befonds. Aangesien die stigter aanvanklik al die aandele in die risikokapitaalmaatskappy besit, sal hy/sy uitgesluit word van die Afdeling 12J-aftrekking omdat hy ‘n “verbonde persoon” is in verhouding tot die risikokapitaalmaatskappy.

Die voorgestelde wysiging aan Afdeling 12J poog om hierdie probleem aan te spreek. In terme van die voorgestelde wysiging word die risikokapitaalmaatskappy minstens drie jaar gegun om sy kwalifiserende beleggings te vind wanneer hy sy maatskappystruktuur oprig, en soortgelyk word daar nou minstens drie jaar gegee vir aandeelhouers om meer beleggers te vind om saam met hulle in die struktuur te belê. Die Afdeling 12J-aftrekking, in terme van die voorgestelde wysiging, sal dus slegs omgekeer word indien die aandeelhouers van die risikokapitaalmaatskappy steeds, na die 3-jaar tydperk soos hierbo genoem, ‘n “verbonde persoon” is in verhouding tot die risikokapitaalmaatskappy.

Indien aanvaar, sal hierdie welkome verandering op 1 Januarie 2017 van krag word.

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg  van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X